What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

God se Gees help ons om teen onreg op te staan!

Markus 15:13-15

13“Kruisig hom!” gil hulle. 14“Maar hoekom? Wat het hy dan verkeerd gedoen?” vra Pilatus. Die klomp mense het net harder geskree: “Kruisig hom!” 15Pilatus wou die skare tevrede hou. Daarom het hy maar vir Barabbas laat gaan. Vir Jesus het hy laat martel deur Hom met ’n sweep te laat slaan en toe gesê dat hulle Hom moet kruisig.

Ek wonder wat sou ek gedoen het as ek moes kies tussen Barabbas of Jesus. Ek wonder of ek saam met die groot klomp mense vir Barabbas sou kies en of ek teen die stroom sou swem en vir Jesus kies? Sou ek opstaan, my lewe en reputasie dalk in gevaar stel en die regte keuse maak?

Dis nie maklik om alleen op te staan vir dit waarin jy glo as al die ander in die teenoorgestelde rigting loop nie. Dis nie maklik om alleen op te staan en jou mond oop te maak as die hele groep ’n ander persoon afbreek nie. Dis nie maklik om alleen op te staan vir reg as die hele mob onreg saai nie.

Maar dit is waarvoor ons as kinders van God geroep is. Ons moet die vrederegters word wanneer die skare onvrede saai. Ons moet die swakkes teen die sterkes beskerm. Ons moet die stommes se stem word bo die geraas.

Ek wens ek kan vir jou verseker dat jy niks gaan oorkom nie, maar ek kan nie. Êrens gaan ons dalk brand om alleen teen die skare op te staan. Maar dis die regte ding om te doen.

Gelukkig weet ons dat God ons nie alleen los nie. Met Sy Gees sal Hy ons krag gee om op te staan vir dit wat reg is.

God se Gees help ons om teen onreg op te staan!

Gebed: Vader, ek is eerlik dat ek bang is om teen die groot klomp op te staan. Ek weet ek moet. Help my om teen die onreg op te staan.

Uitdaging: Kyk om jou rond wie stil en alleen is. Maak planne om die persoon te help, al kos dit baie.