What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

God se familie moet saamspan, en nie tussen mekaar fight nie

Galasiërs 3:28

Omdat julle aan Christus behoort, is julle nou ook deel van sy nuwe familie. Binne hierdie familie maak dit glad nie saak aan watter volk jy behoort nie. Of wat jou status of jou geslag is nie. Hier gaan dit nie daaroor of jy ’n Jood of ’n Griek is nie, en of jy ’n slaaf of ’n baas is nie, en of jy ’n man of ’n vrou is nie. Binne sy familie is almal gelyk. Almal hier binne is nou soos een nuwe mens in Christus Jesus.

Ek bly op ‘n dorp met ongelooflik baie kerke. Natuurlik kom dit soms in my gesprekke met ander mense voor dat ek of iemand anders vra: “Watter kerk woon jy by?” Wat vir my vreemd is, is die feit dat daar mense is wat hulle gesigte só trek asof hulle dink hulle kerk is soveel beter.

Verbeel jou net vir ‘n oomblik dat kerke soos besighede opgetree het en altyd die ander kerk se ‘gebruikers’ probeer oorwen. Daar is iets lelik aan daardie prentjie. Kerk is nie een of ander exclusive klub nie. Of altans – dit moenie wees nie. Daar is baie, moontlik duisende ander, Christene in die area waar jy bly. Julle almal is deel van die familie van Christus al sou julle nie saamstem oor kleiner dinge nie.

As ons as Christene saam sal span om die wêreld ‘n beter plek te maak, is ons besig om saam God se koninkryk op aarde te verteenwoordig. Maar as ons fight tussen mekaar gaan ons nêrens kom nie. Ons moenie ander Christene judge vir die kerk wat hulle bywoon of hoe hulle lyk nie. Ons is soos een nuwe mens in Jesus!

God se familie moet saamspan, en nie tussen mekaar fight nie.

Gebed: Here, dankie dat daar mense in ander kerke is wat ook U koninkryk verteenwoordig op aarde. Help my om uit te reik na hulle en om nie net vas te kyk in hoe ander Christene van my verskil nie. Help ons om as ‘n eenheid U lig in ‘n donker wêreld te skyn. … Amen.

Uitdaging: Neem iemand saam en gaan eendag na ‘n ander kerk as waarheen jy normaalweg gaan. Jy mag dalk net aangenaam verras wees om te sien dat hulle nie soveel van jou verskil nie.