What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

God maak vuil kolle skoon soos geen Omo kan nie!

1 Johannes 1:7

Ons is alleen deel van hierdie hegte familie van God as ons optrede presies is soos God dit van ons verwag. Maar wat nou daarvan as ons iets doen waarvan God nie hou nie? vra jy dalk. Wel, dit is juis God se Seun, Jesus, se offerbloed wat ons geestelik silwerskoon was – daar bly nie een sonde oor nie! Dit beteken dat ons rein voor God kan staan.

Ons is baie bang om ons foute vir mense te wys, so as ons iewers mistrap, is dit baie maklik om te probeer wegkruip van almal en alles. Ons is so bang hulle dink minder van ons. Ons is so bang ander vind uit dat ons dit soms so diep wegsteek dat ons nie eers God naby laat kom nie.

As ons saam met ander mense in God se lig lewe, gaan ons meer en meer dinge wil doen wat vir God reg is. Ons kom dan net keer op keer agter hoe nodig ons God het en dat ons foute maak nes ons vriende. Saam kan ons mekaar aanspoor om na God toe te draai.

Maar as ons dink ons kan van sonde genees word sonder God is dit soos om ‘n vuil broek in vuil water te probeer was. Terwyl ander mense ons kan help om na God te gaan, kan hulle ons nie skoon was nie. Hulle het self vuil kolle wat moet uitgewas word.

Jesus het die prys betaal om ons skoon te was – en dan is ons heeltemal skoon! Dit beteken ons almal kan saam met God aanbid en liefhê en ons foute erken, want God is die een wat ons skoonwas!

God maak vuil kolle skoon soos geen Omo kan nie!

Gebed: Here, ek bid dat U my vuil kolle kom skoonmaak. Dankie dat ek dit nie hoef weg te steek nie, want U is lief vir my en U wil hê ek moet in U lig bly lewe. Dankie dat U nie weghardloop as ek my sonde na U bring nie, maar dat U my graag wil skoonmaak daarvan.

Uitdaging: Vuil kolle is moeilik om uit te haal. Bied in die volgende week aan om iemand ouer (soos jou pa/ma) te help met hulle wasgoed of skottelgoed. Dink aan die manier waarop God jou ook skoonmaak.