What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

God maak die kwaadmaker se oë oop

“Ek sê vandag vir julle dat julle ook julle vyande moet liefhê. Bid vir almal wat julle swaar laat kry en julle vervolg. Dan leef julle regtig soos kinders van God. Want Hy doen goeie dinge vir almal. Hy laat die son skyn oor goeie mense en oor slegte mense. Hy laat dit ook reën oor goeie mense en oor slegte mense se grond.” – Matteus 5:44-45

Dit is baie moeilik om jouself te beheer as ‘n persoon jou kwaad maak of omkrap. Mens kry gewoonlik lus om te skree, of dalk ‘n hou met die vuis uit te deel! Maar sou Jesus so opgetree het? Definitief nie! Ons weet ons moet beter optree as dit, maar dis nie so maklik nie.

Die Here sê vir ons duidelik dat ons ons vyande moet liefhê, maak nie saak wat hy of sy aan jou gedoen het nie. En as jy weet dat jy niks verkeerd gedoen het nie, maar die ander persoon was verkeerd, is dit ons plig as Christene om te bid vir daardie persone wat nie besef wat hulle verkeerd gedoen het nie.

Ek het myself in dieselfde geval gehad, waar iemand verkeerd teenoor my opgetree het. Ek het daardie selfde aand vir die Here gebid en gevra dat Hy daardie persoon se oë sal oopmaak en sien hoe onredelik hy opgetree het. Die volgende dag het hy om verskoning gevra vir sy optrede. Natuurlik het hy nie net toevallig om verskoning gevra nie. Dit wys jou dat jy sonder ‘n negatiewe optrede die Here se hulp kan ontvang! Bid vir daardie mense dat hulle oë sal oopgaan.

Gebed: Here, ek vra vandag voor U voete dat U my sal geduld gee vir mense wat my wil kom omkrap. Seën hulle Heer, en gee hulle die nodige liefde. Amen!

Uitdaging: As jy ook in dieselfde situasie is as ek, wys vir daardie persoon dat sy of haar houding jou nie kan onder kry nie. Veral as Jesus aan jou kant is!