What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

God jubel oor jou!

Sefanja 3:17

As Hy aan hulle dink, raak Hy baie opgewonde en bly. Sy liefde vir hulle maak Hom rustig en laat Hom tevrede voel. Hy sal sommer soos wat hulle by ‘n fees maak, hardop sing om te wys dat hulle Hom bly maak.

“Daardie klere sit so bietjie styf aan jou.” En kadoef! Daar tip die skaal van of jy ok is of nie ok is nie sommer diep in die rooi. Een kritiese opmerkinkie het die vermoë om ons sommer baie sleg te laat voel oor onsself.

Slim ooms het probeer uitvind waarom persoonlike beledigings ons so hard tref en waarom ons dit langer onthou as wat ons komplimente onthou. Hulle het uitgevind dat ons brein meer sensitief is en meer geneig is om te reageer op negatiewe nuus. En ongelukkig berg ons graag al hierdie negatiewe dinge in ons brein – soveel so dat dit tot 10 positiewe boodskappe kos om één negatiewe opmerking in ons gedagtes uit te skakel.

Daar is baie plekke waar ons negatiewe boodskappe kry oor onsself. Maar die grootste gevaar is dikwels onsself. As jy gaan toelaat dat negatiewe gedagtes oor jouself die hele dag in jou gedagtes rondrol, gaan jy maar taamlik pateties voel aan die einde van die dag.

Sefanja 3 vertel ‘n baie mooi boodskap oor dié wat op die Here vertrou. Hy is so opgewonde daaroor dat Hy jou gemaak het! Ek probeer ‘n prentjie in my kop vorm van hoe dit lyk as God hardop sing omdat hy bly is oor my. Wow!

Moenie gedagtes oor jou foute oor en oor vertroetel nie. Wanneer sulke gedagtes weer opduik, vat dit vas. Stop dit net daar. En sê vir jouself 10 keer: “God is bly oor my!” Want dit is die waarheid!

God jubel oor jou!

Gebed: God, dit voel nie altyd of die mense rondom my so bly is oor my nie. Ek voel soms bang, skaam en nikswerd. Help my om diep in my hart regtig te glo en te onthou dat U bly is oor my. Amen.

Uitdaging: Probeer vir ‘n dag (of selfs ‘n uur!) rekord hou van jou gedagtes. Skryf elke keer neer wanneer jy iets dink oor jouself – goed of sleg. Kyk aan die einde van die dag watter gedagtes jy jou meestal mee besig hou. Laat God toe om jou gedagtes nuut te maak en gelyk te maak aan wat Hy sê die waarheid is.