What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

God is my eerste prioriteit

Kolossense 1:18 “Boonop is Hy ook die Een wat sorg dat die heelal nie in duie stort nie. Die kerk kan met ‘n liggaam vergelyk word. Die belangrikste deel, die kop van die liggaam, is God se seun. By Hom het alles begin en Hy neem in alles die leiding. Hy het eerste uit die dood opgestaan.”

Wat is jou prioriteite? Jou familie, vriende, of dalk jou akademie en sport; selfs die musiek instrumente wat jy bespeel. Elkeen het iets in sy of haar lewe wat vir hom of haar tydelik, of permanent belangrik is, en wanneer iets belangrik is, gee jy meer aandag daaraan. Ons is so geneig om te fokus op die belangrike dinge in ons lewens, maar die meeste mense se prioriteite is wat mense van hulle dink, hoe aantreklik en fiks hulle lyk.

Vra jouself die vraag: Wat ek doen, doen ek dit vir myself, of vir God? Sodra jy dit vir jouself doen, begin jy net oor jouself dink. Wanneer jy dit vir God doen, sien jy die groter prentjie en ander mense om jou raak. En dis wat die Here wil hê – dat ons as broers en susters op aarde mekaar sal raaksien en help.

Die Here sê Hy is die belangrikste, die Een wat sorg dat die heelal nie vergaan nie. Die Een by wie alles begin het, en Hy neem in alles die leiding. Die Een wie jou gemaak het en talente gegee het om Sy naam hoog te hou.

Die Here wil hê ons moet belangrike dinge en mense in ons lewe hê, anders kan ons oor niks omgee nie. Maar die enigste voorwaarde is dat God jou eerste prioriteit moet wees. Alles wat jy doen, doen jy vir die Here, jou God, jou Hemelse Vader.

Gebed:Here, help my verstaan dat U die belangrikste is in my lewe, en dat ek U naam sal hoog hou bo my ander prioriteite. Amen!

Uitdaging: As jy volgende keer ‘n musiekinstrument speel, sport doen of iets anders doen wat vir jou belangrik is; vergeet wie jou sien en wys aan God die talente wat Hy jou gegee het.