What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

God is groter as ons boelies!

1 Samuel 17:10-11

10Hy skree toe ook nog: “Ek spot al die hele dag met die soldaatjies van die Israeliete! Stuur tog nou iemand om teen my te kom veg!” 11Saul en al die Israeliete het gehoor wat die Filistyn vir hulle skree. Hulle het hulle koud geskrik en was doodbang.

Ek wonder of daar al ooit ‘n skool bestaan het wat nie ‘n paar boelies gehad het nie. Hulle hou daarvan om groot te praat en te dink dat hulle die coolste persoon op aarde is. Ons kom ook gereeld boelies tee, of dalk boelie ons self vir ander. Hierdie week se Padkos gaan oor die dag toe Dawid ‘n boelie gekonfronteer het.

Baie keer wat ons geboelie word is dit omdat die boelie iets raaksien wat belangrik is vir ons, en dalk hou hy/sy glad nie van dit wat ons in glo of wie ons is nie. Goliat was ʼn groot boelie van die Filistynse weermag (hulle was die Israeliete se vyand gewees), en hy het al die Israeliete  gespot en ook vir God gespot. Maar omdat hy so groot en sterk was het almal bang vir hom geword.

Ons word ook maklik bang vir boelies en vir die mense wat sê ons is nie goed genoeg nie. Wat meeste van die Israeliete nie onthou het nie was dat God agter hulle gestaan het. Maar Dawid het dit geweet en dit is wat hom so ʼn groot held gemaak het. Hy het geweet God is sterker as sy boelie.

God is groter as ons boelies!

Gebed: Here, U weet dat daar mense is in my lewe wat daarvan hou om my te boelie. Here ek bid dat U my sal sterk maak om nie deur hulle woorde of aksies moed te verloor nie. Ek weet U is by my. Ek bid ook dat U hulle harte sal draai om meer soos Jesus op te tree.

Uitdaging: Wanneer jy weer geboelie word. Onthou dat dit wat God sê oor jou, baie meer waarde dra as wat hulle sê. Petrus help ons ook met die woorde: “… wanneer mense dan sleg van julle praat, sal hulle skaam kry wanneer hulle agterkom hoe voorbeeldig julle leefstyl is omdat julle aan Christus behoort” (1 Petrus 3:16)