What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

God is die rede vir alles wat ons doen.

1 Korintiërs 10:31

Laat ek dit so stel: alles wat julle doen, of julle nou iets eet of drink, moet julle doen sodat mense kan raaksien hoe belangrik God is.

Ons lewens is dikwels baie gejaagd. Daar is te veel om te doen en te min tyd! Dit waarvoor ons “ja” sê en dit waarvoor ons “nee” sê wys nogal wat vir ons belangrik is. Dit wissel ook van tyd tot tyd. In die vakansie word ontspanning en tyd saam met vriende belangrik en wanneer dit eksamen is, word tyd agter die boeke belangriker. Dit is ook goed en nodig.

Ontspanning, akademie, vriende, sport en tyd saam met ons familie is alles belangrike dele van ons lewe. Dit is goed as ‘n mens van tyd tot tyd kyk na jou program en besluit of jy dalk minder tyd aan die een en minder tyd aan die ander een behoort te spandeer. Wanneer die lewe so vinnig gebeur, val ‘n mens maklik in ‘n patroon om te veel of te min tyd iewers te spandeer. Sonder om jouself te oorlaai met skuldgevoelens kan jy dink en besluit waaraan jy weer meer aandag behoort te gee. Jy kan selfs iemand vra om jou hiermee te help.

Ons weet dat wanneer jy jou lewe vir God gee, Hy die belangrikste in jou lewe behoort te wees. Ons is egter geneig om aan ons verhouding met God te dink as nog ‘n afdeling wat iewers ‘n plek moet kry en afgehandel moet word voordat ons ons dag kan begin. Die Bybel leer ons dat ons alles wat ons doen, tot eer van die Here moet doen. Wanneer jy dus besig is met sport of om te kuier saam met vriende, beteken dit nie dat jou God-prioriteit boksie nie meer afgemerk is nie … Daardie boksie bly altyd afgemerk, dit maak nie saak waarmee jy besig is nie.

Dit beteken dus nie net dat ons meer stil-tyd saam met God het nie – alhoewel dit ook baie belangrik is. Dit beteken dat jy die twee ure wat jy op die sportveld spandeer om te oefen of die uur wat jy agter jou boeke sit om te leer, anders doen as wat jy dit net vir jou eie eer en plesier gedoen het. Galasiërs 2:19 – 20 sê: “Daarom is ek nou ‘n nuwe mens … Nou leef ek deur geloof. My hele bestaan draai om die Seun van God.”

Wanneer jy God leer ken, doen jy dalk nog dieselfde aktiwiteite, die rede waarom en die manier waarop jy dit doen verander net. Dan doen jy alles op ‘n manier wat God sal eer. In Sy liefde help Hy jou ook om dit te kan doen.

God is die rede vir alles wat ons doen.

Gebed: Here, help my om in alles wat ek doen nie my eie eer nie, maar U eer eerste te stel. Help my om U nie net ‘n afdeling in my lewe te maak nie, maar deel te maak van alles in my lewe. Amen.

Uitdaging: Met watter drie dinge is jy die meeste van die tyd besig? Vra God om jou te wys hoe jy in hierdie areas dinge op ‘n ander manier kan doen om Hom te eer.