What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

God is altyd ‘n goeie Pa

Jakobus 1: 16-17 God het niks slegs in Hom nie … Dit is ook Hy wat goeie dinge met julle laat gebeur. As sulke mooi dinge met julle gebeur waarvan julle maar net kon droom moet julle weet: dit kom van God af.

Dit is byna bo ons begrip om te dink dat daar Iemand is wat 100% goed is. Ons is gewoond aan mense wat foute maak. Selfs die wonderlikste pa’s word soms moeg en sê en doen dinge waaroor hulle na die tyd spyt is.

God is anders. Ons kan weet dat Hy propvol goedheid is! Dit was nog altyd so en niks kan dit verander nie. Al gebeur daar slegte dinge hier op aarde soos siektes en oorloë bly God steeds goed en het Hy steeds goeie planne vir ons.

Hy wil ook nie hê slegte dinge moet gebeur nie en het van die begin af goeie planne gehad van intimiteit met Adam en Eva. Maar liefde is net ware liefde as mens dit kan kies en ongelukkig kies die mensdom elke dag om sonde te doen wat tot dood en verwoesting lei.

Maar God se planne vir jou bly steeds goed. Al maak ons foute het Hy ‘n plan gemaak sodat ons weer naby aan Hom kan wees. Hy wil jou omvou met Sy liefde en jou oorspoel met geestelike geskenke wat jy nou op aarde nodig het. En eendag, wanneer ons in die hemel by Hom gaan wees, het Hy steeds goeie planne: geen hartseer en geen trane nie. ‘n Gelukkige lewe ewig saam met Hom.

Ons kan die Vader vertrou. Ons kan hom met volle oorgawe aanbid en Hom volg – selfs die tye wanneer dit nie vir ons sin maak of maklik lyk nie.

God is altyd ‘n goeie Pa.

Gebed: Vader, soms leef ek soos iemand sonder hoop. Ek probeer self alles in my lewe uitsorteer, maar ek kry dit nie reg nie. Ek vergeet dat ek ‘n Vader het wat my vashou en ek vergeet dat U altyd goed is. Help my om te glo en vas te hou daaraan dat U my nooit in die steek sal laat nie. Amen.

Uitdaging: Skryf vir God ‘n brief, gedig of selfs ‘n liedjie waarin jy vir Hom dankie sê vir al die goeie dinge in jou lewe.