What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

God gee Sy genade vrylik – hou op om dit te probeer verdien

Romeine 6:14

Julle staan nie meer onder die loodsware las van die sonde nie. Daardie mag is vir altyd gebreek. Julle hoef ook glad nie meer al die reëls van die wet na te kom om God se guns te probeer wen nie. Julle leef nou net uit sy goedheid.

Wat beteken dit vir jou om ‘n Christen te wees? Is dit dalk omdat jy elke Sondag kerk toe gaan? Dink jy dalk dis omdat jou ouers Christene is? Is dit al die goeie dinge wat jy doen? Die probleem is, baie van ons dink so. Ons dink dat as ons A, B en C doen, is ons in God se goeie boekies.

In die ou dae, lank voor Jesus nog op die aarde geloop het as ‘n mens, was dit baie belangrik om die reëls te volg. Vir die Jode was dit alles gewees – en veral vir die Fariseërs, wat gedink het God skuld hulle goeie dinge as hulle al die reëls nakom.

Nou luister, ek sê nie julle moet al die reëls gaan staan en breek nie, maar God se liefde gaan oor meer as net reëls. Omdat ons vry is van sonde, omdat Jesus ons Sy amazing liefde kom wys het, wil ons op die regte manier lewe. Dit beteken ons erken dat God goed is en ons leef ons dankbaarheid uit deur Hom ook lief te hê. Nie die omgekeerde waar ons net goeie goed probeer doen om God se goedheid te ‘verdien’ nie.

God gee Sy genade vrylik – hou op om dit te probeer verdien.

Gebed: Here God, ek is jammer vir al die kere wat ek probeer om U liefde te verdien. Help my om te onthou dat U alles reeds gegee het aan die kruis. … Amen.

Uitdaging: Kyk bietjie na die dinge wat jy doen in jou geloofsreis met God. Hoeveel daarvan doen jy omdat dit ‘n reël is; en hoeveel daarvan doen jy omdat jy raaksien dat God jou oneindig liefhet?