What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

God gee die beste make-overs

Kolossense 3:10

God het egter vir julle ook ‘n nuwe stel klere gegee. Hierdie klere maak julle heeltemal nuut. Dit bring julle al hoe nader aan God … Hoe beter julle Hom leer ken, hoe meer word julle soos Hy.

So onwelkom soos ‘n paar seisoene terug se modes, so onwelkom is die ou manier van doen by iemand wat deur God nuut gemaak is. Paulus sê ons moet ontslae raak daarvan soos ou klere!

Gelukkig gee God ook vir ons nuwe klere. Sy Gees in ons help ons om op ‘n nuwe manier na die lewe te kyk en nuwe gedagtes te kry oor hoe ons dinge moet doen. Hierdie dinge is nou maar net nie heeltemal in ons eie menslike krag moontlik nie. Die liggaam neig maar elke keer om verkeerde paadjies te wil kies. Maar hoe beter ons God leer ken en hoe nader ons aan Hom kom, hoe meer word ons soos Hy. Party gedagtes verander God in ‘n oogwink en ander veranderinge is ‘n lewenslange groeiproses. Ons leer om vir ons lyf “nee” te sê en vir God “ja” te sê. Ons tree dan nie soos sondige mense op nie, maar soos God!

Hierdie nuwe, mooi klere is gratis vir ons beskikbaar. Ons moet dit net by God soek. Kolossense 3:10 sê verder dat as ons hierdie verandering toelaat om in ons hart te gebeur, ons al hoe nader kom aan die doel waarvoor God ons gemaak het. Hy het ons gemaak om almal soos Christus te wees.

Wil jy lyk soos Jesus? Soek God met jou hele hart. Dan sal jy soos Jesus wees.

God gee die beste make-overs!

Gebed: Jesus, ek wil soos U lyk! Help my om op te hou dink hoe ek die lewe vir myself kan lekker maak en meer te dink aan U. Maak my oë oop vir my verkeerde dink-gewoontes. Ek het U lief en wil U meer en meer liefhê. Dankie dat U my nog meer liefhet en my help om nuut te dink. Amen.

Uitdaging:  Verkeerde maniere van dink laat ons soms vir die slegte in ander mense soek. Vra God om jou vandag te help om deur Sy oë van liefde na ander mense te kyk en niks slegs van ander te dink of te sê nie.