What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Genade moet ons verhoudings versterk, nie afbreek nie

Romeine 6:15

Beteken dit nou dat ons maar kan sondig omdat ons nie meer die wet hoef te gehoorsaam nie? Kan ons leef soos ons wil omdat God ons uit genade red? Nee, natuurlik nie.

Toe ek nog op laerskool was het ek baie sokker gespeel in die pouses. Daar was altyd hierdie een ou wat op ‘n punt sou skree “Geen reëls!”, en glo my, dinge het hand uit geruk. Dit het toe amper meer in ‘n rugby wedstryd verander waar almal die bal optel en uit die res se hande probeer ruk.

Dis asof ons vergeet het dat die punt van die speletjie was om onsself te geniet en dat ons spanwerk moes gebruik om te wen. Maar eerder het dit uitgedraai in ‘n game wat niemand geniet het nie. Almal het seergekry en niemand het gelukkig weggestap nie.

Partykeer dink ek ons gebruik God se genade soos dit. Ons dink “Ag wat, dit maak nie saak of ek iets verkeerd doen nie, God gaan my mos vergewe.” Maar ons word dan soos die kinders wat pluk en ruk en in die proses breek ons verhouding met God af.

Ons moet onthou dat God vir ons lief het en dat ons ons hele lewe lank op ‘n roadtrip is saam met Hom. Ons moet ‘n verhouding met God hê. Dit beteken ons sê dankie vir Sy genade en leef asof ons daaroor dankbaar is. Ons maak nie net elke keer aspris dieselfde fout en sê “Sorry God nie”. Dit maak nie sin dat ons so in enige verhouding sal maak nie? Hoekom dink ons dan soms dis okay in ons verhouding met God?

Genade moet ons verhoudings versterk, nie afbreek nie.

Gebed: Here, ek is jammer vir al die kere wat ek U genade gebruik het om net nog sonde te doen. Ek is jammer dat ek nie my verhouding met U ernstig opgeneem het nie. Help my om dankbaar te wees vir die genade wat U vir my gee en te leef soos U kind. … Amen.

Uitdaging: Probeer ‘n game speel saam met vriende waar julle geen reëls toepas nie. Kyk of dit positief of negatief uitdraai. Gesels met hulle oor wat jy geleer het uit die Padkos. Speel dan die game soos dit gespeel moet word. Hoe verander dit die manier wat julle speel?