What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Gebruik jou vryheid om te lewe soos God dit wil hê!

Romeine 6:17-18

17Ek sê vir God dankie dat Hy julle, wat julle hele lewe lank vir die sonde gewerk het, heeltemal vrygemaak het. Dit is hoekom julle nou luister na alles wat Hy deur die apostels en sy ander dienaars vir julle leer. 18Julle is nie meer slawe van die sonde nie. Nee, julle is nou God se slawe. Nou kan julle leef soos Hy dit wil hê.

Jy ken daai gevoel wanneer die skole sluit op die heel laaste dag van die kwartaal? Dit voel asof ‘n berg van jou skouers afrol. Ek kan myself nie vir een oomblik indink dat enigiemand daar gaan bly sit en weier om die skool te verlaat nie.

Dis lekker om vry te wees van skool en take en, en, en … want hierdie dinge kan ons so moedeloos maak. En as ons net om ons kyk na alles waarvoor almal baklei, sien ons hoe mense veg om vry te kom van alles wat hulle moedeloos maak.

Luister, sonde is een van die dinge wat ons die moedeloosste maak, want as dit ons eers vasgepen het, sukkel ons om los te kom. Ek weet nie van jou nie, maar ek sal eerder nie aspris iets gaan staan en kies wat my moedeloos maak nie. Ek sal altyd vryheid eerste kies.

God gee vir ons daai vryheid in Jesus. Hy vra vir ons om Sy hand te vat en te vertrou dat Sy planne beter is vir ons as dit wat ons kan kry as ons die verkeerde dinge soek. Staan op uit daai skoolbank van sonde en geniet die vryheid van God se genade!

Gebruik jou vryheid om te lewe soos God dit wil hê!

Gebed: God, U het U alles vir my gegee. U maak my vry. Help my om hierdie vryheid te gebruik om vir U te leef. … Amen.

Uitdaging: Watter areas in jou lewe het jy nog steeds nie aan God oorgegee nie? Neem ‘n bietjie tyd om met God te chat en vra Hom om jou te help om die slegte waaraan jy vashou te laat gaan. Vra Hom om jou te help om Sy vryheid te kies.