What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Gebruik jou energie op ’n ander manier

2 Timoteus 2:22 Maak dat jy wegkom van al die verkeerde dinge wat vir ’n jongmens so lekker lyk en wat hy dan so graag wil doen. Gebruik liewer jou energie op ’n ander manier. Probeer liewer reg lewe, op God vertrou en lojaal wees teenoor Hom en die ander Christene. Bewaar die vrede en werk saam met almal wat in ’n opregte verhouding met die Here staan.

Hierdie vers is redelik eenvoudig om te verstaan, maar om dit uit te leef is dalk die moeiliker deel.

Ons sê maklik vir ander mense wat hulle verkeerd doen, maar sukkel om self nee te sê vir die aanloklike sonde. Elke dag is daar soveel keuses wat ons in die gesig staar en dit is moeilik om elke keer die regte een te kies. Ons val soms onder groepsdruk, want ons raak moeg om nee te sê vir alles. Ons wil graag “in” wees en nie snaaks aangekyk word deur ons vriende nie. Ons wil ook graag na al die partytjies toe uitgenooi word.

Maar diep binne weet jy dat selfs wanneer jy in ’n groot groep is, jy alleen kan voel. Net omdat almal anders sondig, beteken nie jy hoef ook teen die Here se wil te lewe nie. Daardie energie kan op soveel beter dade gefokus word om God te verheerlik.

Daar gaan moeilike tye wees waar jy moet kies tussen jou vriendekring en wat reg is. Wanneer jou vriende jou in ’n sekere rigting probeer druk waarin jy nie gemaklik voel nie, moet jy sterk staan en reg kies. Jesus is langs jou en as jy na Hom draai, sal Hy jou help om jou energie reg te gebruik.  

Uitdaging: Vind uit watter vriende ’n opregte verhouding met die Here het en gebruik jou energie om op te staan vir wat reg is.

Gebed: Here, help my om te besef wanneer ek onder groepsdruk val. Seën my met opregte vriende wat saam met my vir U sal dien. Amen.