What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Gaan stroom-op. Maak die wêreld ’n beter plek!

Matteus 5:13

Julle is die sout wat die aarde ’n beter plek moet maak …

Wat het Moeder Theresa, Nelson Mandela, Galileo Galilei en Stefanus in die Bybel in gemeen? Hulle het almal stroom-op geleef. As ’n mens die wêreld ’n beter plek wil maak, beteken dit dikwels dat jy dinge doen wat radikaal anders is as die mense rondom jou.

God se doel met ons was nooit dat ons so goed as moontlik moet inpas nie, maar dat ons soos sout sal wees wat die smaak of die atmosfeer verander. Wanneer jou vriende iets van jou verwag wat nie lekker gel met wat jy glo reg is nie, moet jy ’n besluit maak. Gaan jy die maklike uitweg vat en maar doen wat die res doen? Of gaan jy bereid wees om teen die stroom te gaan?

Die kanse is goed dat daar ander mense is wat net soos jy voel en deep down ook eintlik die regte ding wil doen. Hulle wag net vir iemand wat die guts het om dit te doen en hulle sal volg. Wees jy die sout. Gaan stroom-op en maak die wêreld ’n beter plek.

Gaan stroom-op. Maak die wêreld ’n beter plek!

Gebed: Vader, dit maak my bang om anders as ander te wees, en tog vra U dit soms van ons. Vul my hart met U Gees sodat ek die moed sal hê, selfs al doen ek dit alleen. Amen.

Uitdaging: Neem tyd om stil te word by die Here en vra Hom om jou te wys of daar iets is wat jy moet ophou doen omdat jy net die groep volg.