What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Ek het ’n moesie op my vinger

Psalm 139:15 Daar is nie ’n been in my wat uit sy plek is nie. U ken my totaal. Alles is soos U dit wil hê. U het my gemaak.

Op Pinterest het ek ’n bord vir modelle. ’n Meisie met ’n mooi en sterk liggaamsbou word dadelik gesave en ek streef daarna om eendag soos een van hulle te lyk. Ek vergelyk myself elke dag met ’n vreemdeling om net te besef dat ek nooit soos hulle sal lyk nie.

Elkeen van ons is uniek gemaak. Ek het ’n moesie op my wysvinger en jy het ’n sagte hart vir mense in nood. Ons kyk konstant na ander mense se goeie kwaliteite en weeg dan ons kwaliteite daarteen op, in plaas daarvan dat ons na onsself kyk en trots is op dit wat die Here vir ons gegee het.

Wanneer God na ons kyk, glimlag Hy. Hy kyk nie na ons uiterlike nie, maar dit wat gloei van binne. Hy weet hoe ons optree by die huis en hoe ons oor ander mense praat. Hy weet wat jy gaan dink en hoe jy in elke situasie voel, selfs wanneer ons self nie daardie gevoelens kan uiter nie.

Steeds het Hy ons oneindig lief, want Hy het ons gemaak. Ek moet leer om myself lief te hê en te fokus op die Here se siening van my. Ek moet ophou prente van modelle soek en glo dat ek na die Here se beeld geskape is. Hy het my lief en daarom moet ek vir myself lief wees.

Gebed: Dankie, Here, dat U elke deel van my ken en nie skrik vir wat U sien nie. Dankie dat U my gemaak het presies soos U wou. Amen.

Uitdaging: Skryf vyf goeie eienskappe van jouself neer en dank die Here daarvoor. Fokus daarop om daardie eienskappe vandag te gebruik om iets vir iemand te beteken.