What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Ek het jou mos gesê

Spreuke 19:20 Luister na mense wat die lewe ken. Aanvaar hulle raad. Dink goed oor hulle woorde na. Pas dit in jou eie lewe toe. Dan sal jy weet hoe om gelukkig te leef.

God het ons ouers vir ons gegee om ons te help, groot te maak en ons van die lewe te leer. Hulle weet baie meer van die lewe as ons – al wil ons dit nie altyd erken nie, en dink ons hulle is super oudtyds weet hulle beter.

Ons as kinders is maar partykeer hardekwas en wil ons eie paadjies volg. Het jy ook al toe jy klein was baie hard teëgeskop as jou ma sê jy moet ‘n baadjie saamvat as julle uitgaan, want dit gaan koud raak? En dan wil jy dit glad nie doen nie, want wie kry nou koud as jy die hele tyd rond hardloop en speel? Tot jy ophou en jou hele lyf is vol hoendervleis. Dan staan daar in groot rooi letters oor jou ma se gesig geskryf: Ek het jou mos gesê!

So is ons op ernstiger en belangriker vlakke in ons lewe ook maar partykeer hardekwas. Ons wil nie vir ons ouers luister nie, want “wat weet hulle nou eintlik?” “Hulle verstaan nie ons generasie nie”, “in hulle tyd was dit baie anders gewees”, en so kan die verskonings en teëpratery aanhou en aanhou.

Ons stamp dan ons kop en besef ons ouers was al die tyd eintlik reg. Dis nie altyd maklik om jou ouers se raad te aanvaar nie, maar hulle het al meer van die lewe se stampe en stote gehad as ons. Hulle het al self ‘n paar keer hard hulle koppe gestamp.

Enigiets wat ons ouers doen, doen hulle omdat hulle net die beste vir ons wil hê. Luister na jou ouers se raad. Respekteer hulle. Moenie terugpraat nie. Hulle het jou meer lief as enigiets anders onder die son. Al voel dit asof hulle styl en grootmaak-tegnieke uit die outyd kom, is hulle liefde vir jou oneindig. 

Uitdaging: Respekteer jou ouers. Gaan sê die week vir hulle hoe baie jy hulle waardeer en hoe lief jy hulle het. Waardeer jou ouers en moenie hulle as for granted vat nie.

Gebed: Here, help my om die raad wat my ouers my gee te aanvaar. Help my om hulle te waardeer en te respekteer. Dankie dat U my ouers vir my gegee het. Help my om liefde aan hulle te bewys. Amen.