What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Ek en my naaste

Matteus 22:37-40 … “‘Jy moet die Here jou God liefhê met alles wat jy is en het.’ Niks in jou lewe mag vir jou so belangrik soos God wees nie. Hierdie opdrag staan boaan die lys. Maar daar is ’n tweede opdrag wat langs die eerste een op die lys staan: ‘Jy moet ander mense so liefhê asof hulle jy is.’ Hierdie twee opdragte vorm die pilare waarop alles rus waarvan ons in die Bybel lees.”

Ons almal weet wat die woord “boelie” beteken. Sommige van ons het dit al tasbaar aan ons lyf gevoel. Boelie is verkeerd. Maak nie saak van watter kant af dit kom nie. Of jy nou die een is wat geboelie word en of jy die een is wat self iemand anders boelie. Ek dink as Jesus iemand sien wat ander mense boelie, huil Hy. Dit is presies die teenoorgestelde wat Hy sê in Sy woord. As ons iemand anders boelie, het ons mos nie ons naaste lief soos onsself nie.

Om geboelie te word, is seker een van die seerste goed wat met jou kan gebeur. Jy voel sleg oor jouself en jy voel asof jy net nie goed genoeg is vir enigiets nie. Dit steek soos ‘n skerp swaard deur jou.

As ons God liefhet met ons hele wese, gaan alles anders vanself kom. Dit is eintlik waaroor ons hele lewe gaan. Om God se wil te soek, Hom lief te hê en ‘n diep, intieme verhouding met Hom na te streef, gaan ons help om soos kinders van God te leef.

Iemand het eendag vir my gesê: “No one does wrong willingly.” Dit het my oë laat oopgaan oor hoe ek na mense kyk as hulle my seermaak. Daar is iets in hulle lewe wat maak dat hulle so optree. In plaas daarvan om sleg te voel oor wat hulle aan ons doen of vir ons sê, moet ons eerder wegdraai en kliphard in die stilte, ongemak en deurmekaar emosies vir hulle bid.

Uitdaging: Gaan dink na of jy dalk besig is om iemand te boelie, al is dit nie ooglopend of fisies nie, maar dalk emosioneel. Gaan dink mooi oor wat jy doen. As jy geboelie word, staar die boelie in die gesig, bewys hom verkeerd en weet dat daar iets in sy lewe is waarmee hy struggle.

Gebed: Here God, help my om my naaste so lief te hê soos wat ek myself het. Ek bid vir die mense wat my so seermaak. Help hulle om U te vind. Amen.