What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Ek dink anders as ek besef hoe wyd God se genade strek

Eindeloos. Onvoorwaardelik. Onverdiend. Mind-blowing. Perfek. Goddelik. Guns van God. Vir almal. ‘n Geskenk.

Hierdie is woorde wat so bietjie help om God se genade op te som. God se genade is iets wat ons nie altyd verstaan nie. Ek vra baie keer myself die vraag: “Hoekom help God my alweer uit die sloot?” en “Ek sondig so baie, wat het ek ooit gedoen om hierdie genade van God te ontvang?”

Ons het niks gedoen om God se genade te verdien nie. In fact, ons as mens is die laastes wat dit verdien. Ons mors en breek die hele tyd af. Soos wat staan in Efesiërs 2:8-9: 8 Vra julle waarom julle nou juis gered is? Wel, dit is omdat God so goed is en julle Jesus so vertrou. 9Dit is nie iets wat ons self reggekry het of kon doen nie: God het dit vir ons verniet gegee. Dit is nie iets waaroor enigeen van julle kan loop en spog nie, want dit is nie asof julle self daarvoor gewerk of dit verdien het nie.

Genade is God se manier om ons te seën eerder as om ons te beboet vir al ons sondes. Dit is die soort onverstaanbare liefde wat God oor ons uitstort. God se genade het al in die tuin van Eden begin toe Adam en Eva die verkeerde besluit gemaak het. God kon net daar besluit het om die hele mensdom uit te roei, maar Hy het besluit om hulle genadig te wees.

Niemand van ons verdien God se genade nie. Ons moet dit besef en probeer toepas in ons alledaagse lewe. As ek dink aan God se genade vir my, dink ek anders oor die ou wat net voor my kom indruk in die ry of die vriendin wat lelik was met my. Ek dink anders oor die onreg en die mense wat so korrup is in ons land, want ek weet dat ek ook nie God se vergifnis en liefde verdien nie, tog kry ek dit so oorvloedig. As ons besef hoe groot God se genade is, sal ons wêreld anders lyk.

Dalk kan ons so bietjie van dit teruggee sodat die wêreld ook van God se genade kan ervaar.

Uitdaging: Probeer die week so klein bietjie van die genade wat jy van God ontvang, aan te pass na die mense rondom jou.

Gebed: Here, help my om te besef dat U genade ‘n groot seëning is en dat ek dit glad nie verdien nie. Help my dat ek my gedagtes, opinies en optredes so sal verander dat dit van dankbaarheid getuig oor U genade vir my. Amen.