What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Doen goeie dinge met dit wat jy het.

Lukas 16:9

Toe sê Jesus: “Weet julle, so gaan dit dikwels in die sakewêreld. Baie sakemense wat hulle nie aan die Here steur nie, is partymaal besig met skelmstreke. Hulle help mekaar om ander mense te verkul sodat hulle gou ryk kan word. Natuurlik kan julle by sakemense leer hoe om op te tree. Maar moet egter nie saam met skelms agter geld aanhardloop nie.

Sê nou jy kan net een ding saam met jou bring as jy eendag voor God in die hemel staan? Wat sou dit wees? Ek sou graag ‘n sokkerbal wou vat, want ek geniet die sport so baie, maar dis net dagdromery. God het besluit dat ons niks saam met ons hemel toe kan vat nie. Al ons dinge op die aarde gaan net bly waar dit is.

Party mense spandeer hulle hele lewe om net geld bymekaar te maak. En hulle maak baie. Dan het hulle een huis, ‘n vakansie huis, ‘n luukse kar … en dan? Alles wat hulle bymekaar gemaak het, gaan hulle niks mee kan doen as hulle eendag voor God staan nie.

Dit laat my dink: Dit wat ons het in die wêreld moet ons eerder gebruik om iets te bou wat vir altyd kan staan. Dalk kan jy jou geld/dinge gebruik om mense nader aan Jesus te bring. Dalk kan jy met dit wat God jou geseën het iemand anders seën.

Doen goeie dinge met dit wat jy het.

Gebed: Here, dankie vir alles wat ek het. Help my om te besef dat dit wat ek het op aarde nie vir altyd hou nie en dat U my enigste bate is. Help my om my rykdom te gebruik om U eer te bring. Amen.

Uitdaging: Wat besit jy wat jy kan gebruik om vriende nader aan Jesus te bring? Ek dink ek kan my sokkerbal gebruik om vriende oor te nooi en regverdig te speel en so aan Jesus eer te bring.