What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Dit vat guts om nee te sê

Efesiërs 5:10

As julle iets doen, vra of die Here daarmee tevrede sal wees.

Dit is lekker om nuwe dinge te doen! Wanneer ‘n mens ‘n tiener word, is dit asof daar baie nuwe moontlikhede vir jou oopgaan om te ontdek wat jy nie kon doen toe jy klein was nie. Nou het jy ook ‘n groter verantwoordelikheid om wyse besluite te maak.

Mense haal soms 1 Tessalonisense 5:21 wat in sommige vertalings sê: “… maar toets dit alles, behou wat goed is …” uit konteks aan. Dit klink na ‘n lisensie om rook, dwelms en dronkwees net ten minste een keer te probeer! Waaroor hier eintlik gepraat word, is profetiese boodskappe wat mense gee wat getoets moet word. Die Boodskap se vertaling sê dieselfde vers so mooi: “Stel vas of dit regtig van die Here af kom.”

Vandag se jongmense is baie goed ingelig. So selfs al kon ons maar dinge uittoets, sal dit mos dwaas wees om te doen as jy al voor die tyd geweet het dit is nie goed nie!

Die toets waaraan ons moet kyk of iets reg of verkeerd is, is die toets in Efesiërs 5:10. Sal die Here daarmee tevrede wees? Daardie vraag het my al baie in my lewe gehelp wanneer ek getwyfel het of ek iets moet doen of nie.

Wanneer dit by hierdie dinge kom, is dit maar gewoonlik meer die groepsdruk as die nuuskierigheid wat ons laat swig. Want as jy dit nie gaan probeer nie, sê hulle, is jy ‘n chicken! Die waarheid is dat dit guts vat om nee te sê. Het jy die guts om eerder te doen wat God tevrede stel as dit wat jou maats van jou verwag?

Gebed: Here, my vriende se erkenning voel soos ‘n fyn draadjie waarvan my selfbeeld afhang. Gee my asseblief die krag en moed om te hou by die dinge wat U sal tevrede maak. Help my om nee te sê vir dit wat my liggaam en gees kan skade doen. Amen.

Uitdaging:  Gebruik jou guts en reël ‘n “skoon” partytjie wanneer daar weer ‘n drinkpartytjie is wat jy nie wil bywoon nie.