What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Die voorbeeld van jou ouers

In die week hoor ek net ‘n groot lawaai buite my venster en ek steek my kop uit om te sien wat dit is. Dit was ‘n man wat wou indraai in ‘n straat, maar ‘n ander kar het op die geel kruis gestaan (waar hy nie mag staan nie, sodat die ander karre wat wil indraai steeds kan indraai al staan die verkeer). Die man wat toe wou indraai, gil, skree en lê op sy toeter om vir die man wat in sy pad staan mooi te verduidelik wat hy van hom dink. Hy skree vreeslike goed.

Nadat die man klaar sy sê gesê het en vir hom met sy lippetaal en handgebare verduidelik het hy verdien nie om op die pad te wees nie, ry hy aan. In die verbyry sien ek in die agterkant van sy kar is daar ‘n karstoeltjie met ‘n seuntjie van so 3 jaar in. Die voorbeeld wat die 3-jarige seuntjie kry van sy pa is skel en skree. Hoe hartseer is dit nie. Daar is soveel ander maniere om so ‘n situasie te hanteer. Waar moet die jong, onskuldige seuntjie nou vir Jesus in sy pa se optrede sien?

Matteus 5:16 “Julle moet soos ’n lig in hierdie pikdonker wêreld skyn. Ander mense moet uit julle woorde en dade sien dat julle God van harte dien. Dan sal hulle sê dat God regtig ’n groot en goeie God is. So word julle hemelse Vader se Naam regtig grootgemaak.”

Ons ouers se voorbeeld van hoe om mense te hanteer en hoe om in moeilike situasies reg op te tree, het nogals ‘n groot impak op ons. Ons as kinders moet besef dat niemand perfek is nie, nie eers ons ouers nie. Die voorbeeld wat ons ouers vir ons gee, gaan dalk nie altyd Jesus se lig skyn nie. Probeer om dan nie soos jou ouers te maak nie en skyn eerder Jesus se lig.

Uitdaging: Probeer hierdie week Jesus se lig skyn en tree so op dat ander mense Jesus in jou kan sien.

Gebed: Here, help my om so op te tree dat ander kan sien dat ek U dien. Help my om U lig te skyn in hierdie pikdonker wêreld. Amen.