What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Die uitspansel bars van God se grootheid!

Psalm 19:5

Daar is nie ‘n millimeter van die hemel of die aarde wat nie vertel hoe groot God is nie. Alles wat Hy gemaak het, ja alles, tot by die verste plekke wat ons kan sien, is vol van sy eer.

Een van my gunsteling dele in die Narnia-flieks, is waar die bome met ‘n fluistering soos die wind boodskappe aan mekaar oordra. So oeroud en grasieus! As bome regtig kon praat wonder ek nogal wat hulle sou sê.

Dawid het hierdie mooi lied in die Bybel geskryf waar hy sê dat alles wat God gemaak het, vertel hoe belangrik Hy is. Dis of die een dag met die volgende dag praat en die een nag vir die volgende nag fluister.

Hulle dra die boodskap van God se eer en grootheid verder en verder oor.

Maar jy hoor geen geluid nie; hulle praat nie met mensewoorde nie. Hulle woorde word versprei sonder klanke.

Ek kan my voorstel dat die mens eendag ‘n manier sal vind om die kode waarmee die natuur kommunikeer sal crack! Al wat ‘n mens sal hoor is hoe die son en sterre wat lank terug deur ‘n woord uit God se mond ontstaan het sal aanhou en aanhou sê: “Prys die Here! Hy is lofwaardig!” En die blommetjie wat presies blom soos wat God hulle gemaak het om te blom en van die kleinste, interessantste goggatjie tot ‘n stil, swaar klip uitroep: “Geseënd is Hy! Vrede in die hoogste hemel!”.

Luister fyn. Kyk om jou rond en sien die werke van God – die Meesterkunstenaar.

Die uitspansel bars van God se grootheid!

Gebed: Vader, U grootheid gaan my verstand te bowe! Ek wil U loof en prys met alles wat in my is!

Uitdaging: Probeer Psalm 19:1-12 memoriseer. Wanneer jy weer iets onbeskryflik moois sien, kan jy hierdie verse onthou!