What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Laat God se Woord toe om met jou te praat

2 Timoteus 3:16

Die hele Skrif kom direk van God af. Daaruit kan ons so baie leer. Dit help ons om te wys waar mense die pad byster raak en om hulle weer reg te help. Uit die Skrif kan ons ook vir mense wys hoe God wil hê hulle moet leef.

Het jy al ooit gaan sit en dink oor hoe die Bybel anders is as enige ander boek in die hele wêreld? Is die Bybel dan nie nou net nog ‘n boek wat deur ‘n klompie verskillende mense uit hulle eie oogpunt geskryf is nie?

Wel, tot ‘n groot mate, ja. Elkeen wat ‘n woord neergesit het in die boek wat ons vandag die Bybel noem, het geskryf van hoe hulle God ontmoet het daar waar hulle was. Dis een van die redes waarom die Bybel so ryk en waardevol is. Maar tog is die Bybel meer as dit. Dit is die Woord van God.

God het so gewerk in die lewens van die mense in die Bybel dat hulle wou vertel van dit wat hulle God hoor sê en doen het in hulle tyd. En deur hulle stories kan ons ook geïnspireer word om God raak te sien in ons eie wêreld. Ons kan daardeur ook sien wat ons reg en verkeerd doen.

Mense kla baie dat hulle nie God in hulle lewens hoor nie, maar hulle tel letterlik net een keer elke blou maan hulle Bybel op. Die Bybel is een van die grootste maniere waarop God met ons praat vandag, en daarom noem ons dit die Woord van God.

Laat God se Woord toe om met jou te praat!

Gebed: Dankie, Here, dat U vir ons U Woord gegee het. Ek is jammer dat ek dit nie so baie oopmaak soos wat ek graag wil nie. Help my om U stem te hoor soos wat ek dit elke dag lees. … Amen.

Uitdaging: Soek ‘n bietjie deur die Evangelies, vind ‘n vergelyking van Jesus, lees dit en skryf neer wat jy daaruit leer. Hoe praat God deur hierdie teks met jou?