What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Die Heilige Gees laat jou borrel. As jy wil.

Lukas 10:21 “Omdat die Heilige Gees se krag in Hom was, was Hy so vol vreugde dat Hy dit eenvoudig met God moes deel.”

Vir baie van ons klink die Heilige Gees na ‘n vreemde gedagte. Amper soos iets spokerigs wat jou dinge gaan laat doen wat jy nie wil doen nie. Ons vergeet dat ‘n mens se keuse iets is wat vir God baie belangrik is. Hy sal Homself nooit op ons afdwing nie.

Jesus was vol van die Heilige Gees se krag. Die goeie dinge wat ons so graag wil doen, maar wat ons sukkel om in ons eie krag reg te kry, kon Jesus regkry, met die hulp en leiding van die Heilige Gees. Hy het dit geniet om gevul te wees met die Heilige Gees!

Jesus se doel was van die begin af dat ons soos Hy moet word en om dit vir ons makliker te maak, los Hy die Heilige Gees ook vir ons agter. Die Heilige Gees kan net deur jou doen wat jy Hom toelaat om te doen. Hy kan jou swaarmoedigheid wegvat en jou laat borrel van vreugde. Hy kan jou wys watter dinge jy moet los en jou lei om closer met God te wees. Hy kan maak dat die sondige dinge vir jou minder lekker lyk en jy begin kies om dinge te doen wat aan God eer bring. Hy kan jou voete vlerke gee en maak dat jy net God se liefde met die mense om jou wil deel. Hy maak dinge vir jou moontlik wat jy nooit eens kon droom moontlik kon wees in jou lewe nie.

Maar jy moet Hom in jou lewe nooi. Jy alleen kan besluit hoe baie of hoe min jy Hom in jou lewe gaan toelaat.

Die Heilige Gees laat jou borrel. As jy wil.

Gebed: Heilige Gees, U is welkom in my lewe. Amen.

Uitdaging: Skryf neer wie jy dink die Heilige Gees is en hoe Hy is. Soek Bybelverse op wat oor die Heilige Gees praat en besluit of die manier hoe jy oor Hom dink, ooreenstem met wat in die Bybel staan.