What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Die Gees praat deur ons en God verstaan

Romeine 8:26-27 Intussen het God sy Gees aan ons gegee om ons in ons swakhede te help. Ons grootste swakheid is dat ons nie aldag weet wat ons moet bid nie. Maar in sulke tye bid die Gees self vir ons. Hy vertaal al ons swaarkry in hemelse taal. Hy gaan sug en kla namens ons daar by God. En omdat God die Heilige Gees deur en deur ken, weet Hy presies hoekom sy Gees so ernstig vir ons bid. En God weet ook dat die Gees altyd volgens sy wil vir al die gelowiges bid.

Somtyds het ek nie woorde nie. Ek weet nie hoe om vir Jesus te vra om my te help nie. Ek weet nie wat om te bid sodat Hy my kan help met my struikelblokke nie. Gelukkig hoef ons dan nie te worry nie, want ons weet dat die Heilige Gees daar is om ons gedagtes in woorde om te draai.

Daar is niemand wat my so goed ken soos my ma nie, maar steeds verstaan sy my partykeer verkeerd. Dit is nie hoe die Heilige Gees is nie. Die Heilige Gees weet presies hoe ons voel en waardeur ons gaan. Ons hoef nie te probeer sukkel om ons gedagtes te verwoord nie, want die Gees weet.

Die Heilige Gees en God is een en daarom verstaan God wat in ons harte aangaan. In tye van nood wanneer ons woorde opdroog, praat die Gees deur ons en God verstaan.

Gebed: My woorde is partykeer min, Here, maar dankie dat U die Heilige Gees gestuur het om in tye van nood deur my te praat en vir my te bid. Amen.

Uitdaging: Wanneer jou woorde opdroog, gebruik die stilte om net in God se teenwoordigheid te wees en laat toe dat die Gees met God praat. Jy hoef nie altyd woorde gebruik om met God te praat nie.