What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Die doodloopstraat

Lukas 15:16: “Later was die arme man so honger dat hy selfs bereid was om die varke se kos te eet. Maar die eienaar het geweier.”

Daar was eenmaal ‘n jongman wat baie hardekwas en eiewys was. Hy het sy ouerhuis verlaat en in ‘n doodloopstraat beland – die dryfveer agter dit alles was “selfliefde”.

Hy het gerebelleer teen die reëls in sy ouerhuis en homself as onafhanklik en volwasse beskou. Hy wou graag die begeertes van sy hart en sy lyf volg. Wat hy egter nie besef het nie, is dat dit hom op die ou end op ‘n baie slegte plek sou bring.

Die wêreldse aanloklikhede was vir die jongman net te begeerlik en hy wou nie anders as om spandabelrig en losbandig te lewe nie. Ai, hoe moes sy arme ouers se harte nie aan stukkies gebreek het nie, maar hulle het teruggestaan en besluit dat hy sy eie keuses moes maak.

Toe beland die jongman in ‘n posisie waar hy alles verloor … ja, alles! En so beland hy toe in ‘n doodloopstraat waar hy nie meer weet na wie om te gaan nie. Hy gaan toe maar al druipstert terug na sy ouerhuis, sodat hy sy ouers om vergifnis kan vra. Groot was sy verbasing toe sy ouers hom vriendelik terug in hulle huis verwelkom.

Wat leer ons uit die jongman se lewe? Dat ons kwesbaar is en dat ons baie maklik verlei kan word deur die wêreld se aanloklikhede. Omring jouself eerder met goeie vriende en vra vir Jesus om jou op die regte pad te hou. Onthou: God sal jou ook enige tyd met ope arms terug verwelkom as jy bereid is om jou foute te erken en jou rug daarop te draai.

Uitdaging: Dink in elke situasie “What will Jesus do?”  Omring jouself met goeie en opbouende vriende wat ook lief is vir die Here.

Gebed: Vader, help my asb. om elke dag my lewe in U hande te sit en om die pad saam met U te stap, sodat ek nooit sal afdwaal nie. Amen.