What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Die dagboek

1 Petrus 5:7: “Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hyself is die Een wat vir julle sorg.”

Liewe dagboek. So kan dit nie langer aangaan nie! Toe Kara vandag ’n ballon opblaas totdat dit bars, het ek gedink dis presies soos ek voel. Ek het so baie stres in my lewe. Dit gaan nie goed met my werk nie, ek pas nie altyd in by my vriende nie, dan raak ek omgesukkel en haal my negatiewe buie op almal uit. Ai, en nou lê die eksamen ook amper voor die deur. Hoe gaan ek tog hierdeur kom? Dit was wat Lisa een aand in haar dagboek geskryf het.

Het jy ook al soos Lisa gevoel? Miskien het jy ook so baie stres in jou lewe dat jy voel asof jy soos die ballon gaan bars. Lisa was slim genoeg om ontlading vir haar opgekropte emosies in haar dagboek te vind. Wat sou jy in die situasie gedoen het?

Moenie jouself bekommer nie, want hulp is naby. Jy moet net daarvoor vra. Dis eintlik baie maklik. Praat met Jesus en vertel Hom van alles wat jou pla. Onthou, Jesus was ook net ’n mens hier op aarde met baie uitdagings en versoekings. Hy ken al jou bekommernisse en Hy wag net vir jou om Hom in jou lewe in te nooi, sodat jy by Hom rus en vrede kan vind. Solank jou geloof standvastig is, sal niks jou onderkry nie.

Uitdaging: Praat vandag met Jesus en Hy sal vir jou rus en vrede bied. Jou stres sal soos mis voor die son verdwyn.

Gebed: Jesus my Leidsman, help my asb. om altyd my oog op U gerig te hou en om op U te vertrou. Ek weet saam met U kan ek berge verskuif en sal ek heel anderkant uitkom. Amen.