What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Die 10de Gebod

Eksodus 20:17: “Moenie afgunstig raak op iemand anders se besittings nie. Jy moenie wens dat sy vrou of sy werkers, sy bees of sy donkie, eerder aan jou behoort het nie.”

Hoekom het die Here die 10 gebooie vir ons as riglyne gegee? Hoekom juis die 10de gebod wat ons waarsku om nie te begeer nie? God het hierdie gebod juis vir ons gegee, omdat Hy geweet het begeertes kan ons op die verkeerde pad laat beland.

Die duiwel is listig en hy kan nie wag om te hoor as God se kinders iets begeer nie, want dan saai hy saadjies van jaloesie, diefstal, oneerlikheid en ja, soms selfs moordgedagtes sodat ons kan kry wat ons begeer! Die duiwel wil hê dat ons van die wa af moet val sodat ons bereid sal wees om enige iets te doen om ons begeertes te bevredig. Hy maak ons jaloers op ons vriende se besittings en prestasies en daardeur steel hy ons lewensvreugde. Hy maak ons ondankbaar oor dit wat ons wel het en hy maak van jou ‘n “ou suurpruim” wat almal om jou ongelukkig maak met jou houding en optrede.

Deur God te dank vir alles wat ons het, hou ons nederig en laat die duiwel die pad vat. Deur op God te vertrou en alles van Hom in gebed te vra, sal maak dat goeie dinge op God se tyd en manier na ons toe kom. God ken elkeen van ons en ons gedagtes en Hy weet wat ons nodig het en wat die beste is vir elkeen van ons.

As daar iets is wat ons graag wil hê, moet ons dit vir God vertel en bereid wees om geduldig te wag vir Sy uitkoms, want Hy weet wat ons nodig het en wat ons verdien. Soms kry ons nie waarvoor ons vra nie en dan moet ons nie moedeloos word nie, maar eerder vir God dankie sê vir wat ons het en wat ons al van Hom ontvang het. Daarom moet ons nie begeer nie, maar wag op God se geskenke vir ons! Hy ken die verskil tussen ons behoeftes en ons begeertes, en Hy sal op Sy tyd vir ons gee wat ons nodig het.  

Uitdaging: Dink vandag oor hoe jy sal voel as jy moet uitvind dat iemand jaloers is op jou, omdat hulle iets van jou begeer. Hoe sal jy die persoon kan reghelp?

Gebed: Here, help ons asb. om altyd die 10de gebod te onthou en om nooit te begeer nie, maar gee dat ons eerder op U geskenke vir ons sal wag. Amen.