What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Dankbaarheid bring jou nader aan God

1 Tessalonisense 5:18

“Wees heeltyd dankbaar teenoor God, wat ookal met julle gebeur.”

Een woordjie: Dankie! Dit is al wat dit vra vir ons om ons harte op God te rig en deure oop te maak vir ‘n dieper verhouding met Hom. Dit klink so eenvoudig – maar dis juis die eenvoudige goedjies wat ons so maklik mis kyk wat so ‘n groot verskil kan maak.

As ons vir God dankie sê, gee ons vir Hom eer vir dit wat Hy vir ons doen. Dit is soos ‘n verklaring van jou geloof dat Hy die een is wat verantwoordelik is daarvoor. En dit is ‘n manier om te erken dat ons afhanklik is van Hom. Ons kan ons oë vir ‘n oomblik hou op Iemand wat groter is as ons probleme.

Soms gaan ons deur moeilike tye. Daar gebeur slegte dinge. Paulus sê hier dat ons dankbaar kan wees, maak nie saak wat gebeur nie. Dit moet soms nogal baie vat om nie net vir jouself jammer te voel oor die situasie waarin jy jou bevind nie en iets te soek om voor dankbaar te wees!

As daar iemand is wat weet van moeilike tye was dit Paulus! Die Bybel vertel hoe hy en Silas erg geslaan en in die tronk gegooi is omdat hulle Jesus se krag deur hulle laat werk het. En raai wat doen hulle? Kla oor hoe onregverdig hulle behandel is? O nee. Om middernag sit hulle en sing lofliedere in die tronk! In ‘n groot gemors, maar naby aan God.

Daardie nag het ‘n groot aardbewing die tronk se deure oopgebreek. Dalk gaan jou moeilike situasie nog vir ‘n ruk voortduur. Maar van een ding kan jy seker wees:

Dankbaarheid bring jou nader aan God.

Gebed: Dankie Vader, dat U my geken het nog voor ek gebore is. Dankie dat U goeie planne vir my het. Help my om deur alles wat skeefloop U hand in my lewe te sien. … Amen.

Uitdaging: Maak ‘n lys van alles waarvoor jy dankbaar kan wees. Doen dit môre weer en probeer aan nuwe dinge dink. Jy kan ook die verhaal van Paulus en Silas lees in Handelinge 16.