What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Daar is ‘n rede …

Jakobus 1:2-4

My broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees. Julle weet mos: Wanneer n mens se geloof n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard. Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie.

Toe ek klein was, kon ek nie verstaan hoekom my ouers soms so naar met my was nie. Hulle wou hê ek moet my groente eet, vroeg gaan slaap, al my huiswerk doen … “Hoekom haat hulle my?” het ek party dae gewonder. Meanwhile het hulle geweet wat regtig goed is vir my. Hulle het nie al daardie reëls gehad om my lewe boring te maak nie. Hulle het my beperk om my te beskerm.

Net so weet God ook wat die beste is vir jou. Hy weet wanneer jy drink, rook of dwelms gebruik, is jou lewe in gevaar. Só baie kan verkeerd loop in so ’n klein tydjie. God is te lief vir jou om te sien hoe jy jou kosbare lewe op die spel sit. Hy het groter planne vir jou. Daarom wil Hy jou standvastig maak, maar dit gaan nie sommer oornag gebeur nie. Volgens Jakobus vorm standvastigheid wanneer mens getoets word. Dit beteken dat die duiwel jou die heeltyd gaan probeer lok na partytjies met drank en kuiers saam met die verkeerde mense.

Wat gaan jy kies? Die pad na lewe in oorvloed saam met die God van hemel en aarde, of ’n oomblik se plesier wat lei na vernietiging en dood?

Uitdaging: Wanneer die vyand jou probeer uitvang, dink mooi aan wat die gevolge daarvan sal wees.

Gebed: Here, help my om raak te sien waar die duiwel my probeer uitvang. Gee dan ook vir my die krag om hom te weerstaan. Dankie dat U ’n plan het met my lewe. Amen.