What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

By God is daar wegkruipplek

Psalm 91:4-5

4Hy sal jou verlos van enige gevaar wat jou lewe bedreig. Hy sal jou veilig oppas. Daarom kan jy by Hom gaan wegkruip. Met Sy groot liefde keer Hy die gevaar af. 5Jy hoef nie bang te wees dat enige mag jou bedags of snags sal oorrompel nie.

Soms in die winter, as dit so lekker koud raak, is een van die lekkerste dinge om te doen om ‘n kombers oor jou hele lyf (kop, gesig, tone, alles) te trek. Dis so snoesig en voel so veilig. Ongelukkig het nie almal van ons daardie luuksheid nie. Maar ‘n kombers kan net warm hou, dit kan nie werklik veiligheid vir ons gee nie.

As ons in gevaar is, doen meeste mense een van die volgende: Hulle vlug of hulle veg. Ons kan veilig vlug na God se beskerming toe. God is groter as ons probleme en die gevare in ons lewe. By Hom is daar wegkruipplek. As ons by Hom skuiling soek, hoef ons nie die heeltyd paranoïes links en regs te kyk nie, want Hy het ons toekoms in Sy hande en Hy het ons lief.

As ons na God toe vlug, sal God die vegwerk doen. Jy sien, God se liefde hou ons vas, en dit is wat Paulus ook  wou sê in Romeine 8:38-39: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

By God is daar wegkruipplek.

Gebed: Here, ek wil wegkruipplek by U soek wanneer dinge moeilik raak. Ek wil nie veg en veg en veg in my eie krag nie, maar ek glo dat U liefde groter is as my probleme. Wanneer ek in gevaar kom, mag ek welkom wees in U teenwoordigheid, waar ek veilig in U liefde is. Amen.

Uitdaging: Watter moeilikheid is daar waarvan jy wil wegkruip? Volgende keer as jy voel jy moet in jou eie krag alleen staan teen moeilikheid of gevaar, onthou dat God daar is en dat Hy jou wil beskerm.