What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Bly kalm, God gee om

1 Petrus 5:7

Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.

Party battles in hierdie lewe het baie meer te doen met die spanning wat daarmee saamgaan as wat dit met die actual probleem te doen het. Eksamens is beslis een daarvaan! Die hele onsekerheid rondom “Het ek genoeg geleer?” en “Gaan ek my werk kan onthou?” is sommer genoeg om ‘n mens klaar ‘n blank te laat slaan.

Ironies genoeg is jou kanse beter om goed te presteer as jy net kan kalm bly. Maar hoe?

Die Woord sê dat ons al ons bekommernisse by God moet los. Ja ALLES – dit sluit eksamens in. As God ‘n veer gevoel het vir dit waardeur jy gaan, sou dit nogal ‘n useless exercise gewees het. As Hy glad nie vir jou kon bystaan nie, sou dit selfs ‘n bietjie roekeloos gewees het. Amper soos ignoreer dit net en strompel voort.

Maar nou weet ons gelukkig dat God kragtig is én Hy gee om vir elke detail van jou lewe.

Bly kalm, God gee om.

Gebed: Vader, dit is nie altyd lekker om eksamen te skryf nie en party vakke laat my meer stres as ander. Help my asseblief om kalm te bly. Dankie dat U vir my omgee. … Amen.

Uitdaging: Skryf vir God ‘n brief oor alles wat jou bekommer. Vra Hom wat Hy vir jou daaroor wil sê. Skryf dit neer.