What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Bly ingeplug by Jesus.

Filippense 4:13

Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans omdat Jesus my bron van krag is.

Ek stap na die kisvrieskas om maalvleis te gaan uithaal. Ek skrik my dinges af, want al die vleis is ontdooi. Ek ruk die bank weg en sien dat iemand die plug uitgetrek het. Ek vra verwoed wie dit gedoen het, maar die skuldige is skoonveld. Gelukkig was die vleis nog koel en kon dit darem gered word.

Vir vrieskaste om te werk, moet dit êrens krag vandaan kry. Dis nou nie eintlik nuwe nuus nie, nè. Om enige ding wat met krag werk, te laat werk, moet dit ingeplug wees, anders kan dit eenvoudig net nie werk nie.

En dit geld vir ons as kinders van God ook. As ons nie by Jesus ingeplug is nie, gaan ons ook nie werk nie. Ons kan nou maar sukkel hoe ons wil, maar as ons nie by Jesus ingeprop is en by Hom ons krag kry nie, gaan ons nie ver kom nie.

By Jesus kry ons die krag om op te staan teen die aanvalle van die ou wat ons die heeltyd van die pad wil aftrek. By Jesus kry ons die krag om met wysheid die regte besluite by die kruispaaie van die lewe te maak.

As jy nie wil sukkel in die lewe daar buite nie, as jy kans wil sien vir die goeie en die slegte:

Bly ingeplug by Jesus.

Gebed: Jesus, sonder U kan ek niks doen nie. Sonder U het ek nie krag vir die lewe nie. By U wil ek die heeltyd ingeplug bly. … Amen.

Uitdaging: Kyk of jy die volgende 10 dae elke oggend ’n bietjie vroeër kan opstaan om stil te word voor Jesus.