What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Al verstaan hulle my nie, sal ek steeds my ouers respekteer.

Efesiers 6:1-3

1Vir die kinders wil ek die volgende sê: as Christene moet julle na julle ouers luister. Dit is wat God van julle vra. 2Die Skrif sê: “Jy moet jou pa en ma respekteer” – kyk mooi hoe gaan hierdie gebod verder, want dit is die eerste gebod waarin God iets beloof – 3“sodat dit goed met jou sal gaan en jy ’n lang en gelukkige lewe mag hê.”

Ugh, ja… nóg ‘n vers wat sê ek moet na my ouers luister. Ek hoor dit ‘n duisend keer van alle kante, ek hoef dit tog nie weer te hoor nie … Wel, ek dink dis baie keer hoe ek voel as ek hoor ek moet respek toon aan my ouers. Maar dis regtig nie maklik nie. Dit voel soms of hulle my net nie verstaan nie.

Ons ouers maak ons soms moedeloos. Hulle hou aan om vir ons te sê “doen dit” of “doen dat”. Dit maak ons kwaad wat veroorsaak dat ons dan ons  humeur verloor.  Maar in die vers hoor ons dat daar ‘n belofte is vir dié wat hulle ouers respekteer.

Ek het al soveel keer gesien en gehoor hoe ander jongmense rondom my (in die skool, by die kerk) hulle ouers sonder respek hanteer. Ek het nog nooit een van hulle gesien wat gelukkig is nie. Eerlik. Nie een nie. En dis nie net ‘n once-off ding nie. Dit raak ‘n patroon.

Yes, dis moeilik om ons ouers te respekteer, maar God gee hierdie raad met ‘n rede. Selfs al verstaan ons ouers ons nie, verwag God steeds dat ons hulle sal eer – en Hy belowe ‘n lang lewe van geluk. Man, waar kan ek begin?

Al verstaan hulle my nie, sal ek steeds my ouers respekteer.

Gebed: Dankie Here, dat U vir my ouers (of ouerfigure) gee om my te help op my lewenspad. Here, gee my asseblief geduld en ‘n passie om hulle te eer. Al voel dit vir my moeilik en ongerieflik … Amen.

Uitdaging: Maak vir ‘n ouer/ouerfiguur koffie – drink saam ietsie en leer hulle ‘n bietjie beter ken. Probeer iets interessants leer wat jy nog nooit vantevore oor hulle geweet het nie.