What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Aanbidding vat guts!

Daniël 3:28

Toe sê Nebukadnesar: “Loof die God van Daniël se pelle! Hy het sy engel gestuur om hierdie mense wat Hom dien en vertrou te kom red. Hulle het geweier om die koning se bevel te gehoorsaam. Hulle was bereid om dood te gaan eerder as om enige ander god te aanbid behalwe hulle eie God.

Die goddelose koning Nebukadnesar het ’n goue standbeeld laat maak. Hy het beveel dat alle mense die beeld moet aanbid. Enigeen wat weier om die beeld te aanbid sou dadelik in ’n vuurwarm oond gegooi word. Maar nie almal swig onder groepsdruk nie!

Daniël se pelle het vas gestaan en gesê: “Koning Nebukadnesar, ons hoef ons nie voor u te probeer verdedig nie. Die God wat ons dien, kan ons uit die oond en uit u mag red as Hy wil. En selfs al wil Hy nie, kan u maar seker weet dat ons nooit u gode of die goue beeld wat u laat maak het, sal dien en aanbid nie.”

Sjoe! Dis nogal waaghalsig! Of dalk nie? Dalk het Daniël se pelle geweet dat hulle ‘n lewende God aanbid en daar is niemand soos Hy nie. Ken jy ook vir God soos wat Daniël se pelle vir God geken het? Is jy ook so seker oor wie Hy werklik is? Kyk na die teks hier bo en lees weer wat het op die einde gebeur …

Sal jy kan nee sê vir dié dinge wat jou pelle dalk “aanbid” sodat jy kan vas staan vir die Here?

Aanbidding vat guts!

Gebed: Here, ek wil kan vasstaan wanneer ander dinge om my aandag roep om “aanbid” te word. Help my om meer van U te ken, sodat ek U kan aanbid en niks en niemand anders nie … Amen.

Uitdaging: Dink bietjie hieroor: Het jy soveel guts soos Daniël se pelle om op te staan vir die Here?